LOTUS

Die nommer sewe is 'n heilige nommer wat volledig, vol en perfek beteken – simbolies van die voltooiing van 'n siklus. Met die uitreiking van Jan Blohm se tweede DVD in sy sewende jaar as verhoogkunstenaar, durf dié simboliek nie die kyker verbygaan nie. Het hy nie juis al 'n album met die amper profetiese titel 7 Jaar die lig laat sien nie?

 

Lotus: Live DVD is in Junie 2011 in Die Liedjieboer, Midrand, voor 'n gehoor opgeneem en is

'n toonbeeld van die rockdigter en verhoogfilosoof se verbysterende talent, wat hy vir die heel eerste keer in 2004 met die Suid-Afrikaanse publiek gedeel het.

 

Dié intieme konsert is 'n samekoms van gunsteling-liedjies van CD’s soos Melkstraat Confessions, 7 Jaar en Stille Runaway, maar is veel meer as net 'n goue gerf treffers. Dit sluit ook twee splinternuwe skeppings – Ruby en Ons huisie – in.

 

Lotus is soos 'n kuier-aand saam met Blohm, terwyl hy omring is deur van die land se voorste musikante. Van Anton L’Amour (op kitaar) en Riaan Diedericks tot Chrismari Nel en Martin Labuschagne deel die verhoog met hom, terwyl Brenda Biddulph en Elrine Spies die agtergrondsang verskaf.

 

Blohm is spitsvondig en selfs satiries, met komiese stekies wat mildelik uitgedeel word. Hy noem byvoorbeeld dat hy altyd gedink het dat mense wat hemel toe gaan, Potchefstroom toe gaan... Totdat hy besef het hulle gaan eintlik Stellenbosch toe!

 

Die titel van Blohm se tweede DVD het verskeie betekenisse, op verskillende vlakke. Die lotus is die enigste blom wat in vuil, modderige water ver van die son groei en dan met 'n onaantasbare skoonheid verras. Vir Blohm is dit 'n metafoor vir die lewe. “Dit maak nie saak hoe sleg en moeilik 'n mens se lewensomstandighede is nie, 'n mens het steeds die vermoë om uit te styg en een van die mooiste blomme te wees,” vertel die sanger met die skerp tong en pen.

 

Die digter Breyten Breytenbach was sedert Blohm se jeug 'n besonderse inspirasie. Breytenbach het in die jare 70 'n digbundel getitel Lotus onder die skuilnaam Jan Blom gepubliseer. Vandaar dat Blohm die karakter Jan Blohm aangeneem het en as sy verhoogpersona gekies het. Liedjies soos Groen trui en Breyten se brief is dus deel van die DVD-konsert om hierdie rolmodel te huldig.

 

Lotus: Live DVD is ver van 'n deursnee-rockkonsert. Dit is 'n energieke musiekreis saam met een van Afrikaanse se voorste musiekkunstenaars wat hier sy eiesoortige blik op die wêreld met klank en passie deel. Saam met 'n bonus-onderhoud asook verskeie musiekvideo’s is dit meer as net 'n versamelaarsitem vir sy lojale aanhangers. 'n Absolute moet-sien!

 
Welkom!
Woensdag, 16 Maart 2011 00:00

Welkom by my nuwe website!  Daar is ‘n span mense agter die skerms wat ure lank hieraan gewerk het en ek dink hulle het ‘n amazing  job gedoen.

Vir my is songwriting is bietjie soos marathon hardloop,  jy moet fiks bly as jy goeie tye wil doen.  Dus skryf ek op ‘n daaglikse basis.  Ons beplan om ‘n nuwe album hierdie jaar vry te stel met die titelsnit Ruby.  Ruby trek lekker aandag op my shows en ek het dit goed gedink om vir julle ‘n stukkie van haar hier op te sit om na te luister.[KLIEK HIER OM RUBY AF TE LAAI] Ruby is in 2009 al geskryf en opgeneem by Jon Buckley.

Ons het ook ‘n record label, Blomhuis Rekords, gestig en ek is die afgelope jaar en ‘n half besig met die produksie  van ons eerste projek, Eckard Potgieter se album, Spoorloos.  Ek en Eckard stap al ‘n lang pad saam. Hy het jare gelede Wildebeest Records gehad en ook my debuut album, Melkstraat Confessions, moontlik gemaak.  Die sirkel is voltooi.  Eckard het jare terug my musiektalent raak gesien en my die geleentheid gebied om my  musiekloopbaan te begin.  Hy gun my nou weer die kans om ‘n nuwe baadjie aan te trek.

Ons is ook in die proses om my recording studio te bou en daar is ‘n paar amazing projekte waarby ek betrokke is.  Ek is opgewonde vir die geleentheid om vir die eerste keer sedert Melkstraat Confessions ‘n studio tot my beskikking te hê, my eie studio, Blomhuis Studios! 

In ons voltooide sirkel staan Kabous Verwoed ook en ons werk nou weer verwoed saam.  Ons is trots dat Blomhuis Rekords Bacchus Nel se tweede album, Tussen junk en jewelry, binnekort gaan vrystel.  Hou hierdie spasie dop vir meer info!

Ek gaan ook nie die geleentheid mis om vir elkeen van julle wie my support, my CD’s koop, na my shows toe kom, al die mooi e-mails, boodskappe op Facebook en Twitter, te bedank nie.  Woorde is te min en my dankbaarheid is diep.  Julle is die wind in my seile.

Keep it country
Jan Blohm